Goeie more aan almal,
Hierdie blog is om al ons familie en vriende op hoogte te hou van wat in ons lewens gebeur. Werner raak yslik groot en ek weet baie van die familie sal dit nie graag wil misloop nie. Met die dat ons so vêr van almal af woon het ek gedink hierdie is 'n uitstekende geleentheid om julle te laat deel in sy groot word.
Werner is nou in Gr 3 en dit gaan goed op skool. Hy is 'n baie aktiewe seun by die skool. Hy is nou nie 'n vreeslike presteerder wat die sport aanbetref nie maar hy neem deel en geniet dit. Wie weet miskien eendag sal ons, ons woorde sluk. Hy doen hokkie, swem, tennis en as daar tyd is skaak. Die atletiek seisoen begin nou en vir die eerste keer kan hy aan die velditems deelneem. Hy gaan alles probeer sodat hy kan kyk waarvan hy hou. Ek hou maar duim vas en hoop daar is iets. Ek het so gehoop op die hardloop deel dat hy soos sy ma sou wees maar nou ja. Daardie bene is te lank en lui om vinniger te hardloop as wat nodig is.
.jpg)
Met ouma en oupa wat tans by ons kuier gaan dit eintlik te lekker. Hy word weer so bederf en geniet dit vreeslik om elke middag saam met ouma te sit en huiswerk doen. Dit laat hom groot meneer voel om vir ouma te wys wat hy al alles kan doen.
.jpg)
Dan is daar ook die opgewondenheid in ons huis weens die Stranddienste wat weer om die draai is. Dit is natuurlik vir hom die groot hoogtepunt. Hy gaan weer heerlik saam met die span die res van die oord bedien met Woord, speletjies en baie liefde. Die span aanvaar hom al as een van die span. Dit is 'n hele maand wat ons op Uilenskraalmond aan die anderkant van Gansbaai saam met 30 tieners baie hard werk en die Liefde van die Here deel met die ander kinders daar.
Maar op 'n ander dag vertel ek julle meer daarvan. Al wat ons op hierdie stadium kan vra is baie gebed vir ons en die span. Daar is so baie relings wat getref moet word.
Soos julle ook almal weet gaan ons as gemeente en Stranddiens span deur die hartseer tyd rondom Ds Enrique Matthee. Vir meeste van ons is hy meer as 'n dominee. Hy is 'n baie goeie vriend. Julle kan sy blog volg oor sy welstand op www.matthee.blogspot.com Leana probeer gereeld updates plaas om sodoende ons almal op hoogte te hou. Moet nie ophou bid vir hulle nie asseblief. Ons hou vas aan God se beloftes en glo aan wonderwerke.
Nou ja. Dit is vir eers genoeg. Ek sal weer vir julle skryf en fotos plaas.
O ja! My ma-hulle gaan vandag vir Inalise haal om die naweek by ons te kuier. Sy het ook al yslik groot geword. Ek sal sorg dat daar Maandag foto's van haar en Werner op die blog is vir julle om te sien.
Ek hoop julle het 'n uitstekende naweek!
Liefde groete!
Belinda
1 comment:
Hallo Belinda,
Ek was so bly toe ek jou blog hier raakloop en het sommer dadelik begin volg. (Hoop nie jy gee om nie?)
Dit is WONDERLIK om nuus en fotos van julle almal te sien. Laat my sommer vreeslik terug verlang na die dae toe jou ma-hulle nog by Tygerberg was. Ek mis hulle baie en hoop jy sal asb. vir hulle se groete en baie liefde van die 4 De Klerkies af hier uit die verre Kanada.
Jou seun en Inalise is pragtig en ek kan skaars glo hulle is al so groot. Sy is 'n regte dametjie en Werner het omtrent gerek sedert ons hom laas gesien het.
Ek het al eposse gestuur na die laaste epos adres wat ek van jou gehad het, maar geen antwoord gekry nie, toe maar aangeneem die adres het verander. Ons stuur gereeld eposse vir jou pa-hulle na sy yahoo adres toe, maar is ook nie seker of hy nog aktief is nie. Ons sal graag van julle almal wil hoor. (deklerkcanada@gmail.com)
Sterkte met die Stranddienste en julle werk onder die kinders. Ons bid saam met julle vir Ds. Enrique en sy gesin en ons harte huil saam met sy gemeente. Laat weet gerus as daar enige spesifieke gebeds versoeke is. Die Here sal ons almal dra, ek vertrou op Hom met my hele hart.
Groete vir al die familie en vriende,
Lizette, Jan, JD & Robin
Post a Comment