Monday, November 10, 2008

Sondag - Gemeente in rou

Soos almal reeds weet is Ds Enrique oorlede op Donderdagaand 21:52. Dit het gereën tydens sy afsterwe. Vir ons as gemeente en vriende is daar 'n groot leemte. Ons kosbare herder se stem het vir altyd stil geword op ons kansel.



Ds Mienie het Sondag vir ons die erediens gelei op pragtige wyse waarvoor ons altyd baie dankbaar sal wees. Dit was 'n besonderse mooi dag in die Paarl. Dit was warm en die lug was skoon.



Daar was eerbetoning aan Ds Enrique voor die diens in aanvang geneem is. Na die diens was die Nagmaal bedien as eerbetoning aan ons Koning wat Sy lewe vir ons gegee het.



Na die eerbetoning aan Ds Enrique is die kinders uitgeneem na die kinderkerk. Daar het ek op 'n baie mooi en verstaanbare metode met die kinders gewerk. Ons het op hulle vlak verduidelik wat gebeur het. Ons het nie baie gefokus op die gebeure nie, maar meer op die Hemel. Daar was baie kinder vrae na die tyd. Ons het dit probeer antwoord op die beste manier wat ons kon.

Kinderharte was ontbloot en rou emosies was sigbaar. Ek is baie dankbaar vir die leiding en werking van die Heilige Gees wat my bygestaan het tydens hierdie kinderdiensie.

Enrique was vir hierdie kinders alles gewees. Hy het hulle geleer en saam met hulle gespeel. Ons nader die Kersfees seisoen en al die laaste funksies, waaronder ook ons Kerskonsert. Hierdie kinders gee alles in die oefeninge. Hulle doen dit vir hulle oom dominee! "Hy sal dit mos kan sien vanuit die hemel?" was een van die vrae.

Ons het die diensie afgesluit met die welbekende lied: Daar bo in die Hemelse Kaanan. Dit was s gepas en wonderlik.

Moet asseblief nie ophou bid vir ons as gemeente maar ook vir die Kinderbediening nie.

Groete
Belinda



Sustersafsluiting











Wat 'n fees. Na vele oorweging deur die bestuur het ons besluit om voort te gaan met die funksie. Ek is bly ons het. Enrique sou dit so wou gehad het. Dit was heerlik om al die dames uit die gemeente bymekaar te kon hê in hierdie tyd en die dag saam geniet. En het ons dit nie geniet nie ...!



Alles was haarfyn beplan en het pragtig gelyk. Baie dankie Jenny en Blom vir al julle hulp om hierdie dag so 'n reuse sukses van te maak. Dankie dan ook aan elke sustertjie wat haar deel gedoen het. Aan almal wat so mooi gelyk het, dankie dat julle gehou het by die tema!



Die middag het begin waar ek 'n voorlesing uit Annalise Wiid se nuutste boek "Skewe snytjies brood" gedoen het oor "Die kleur van God". Ons het lekker gelag, maar ook baie geleer. Michelle Brink was ons gaskunstenaar vir die dag en het direk hierna oorgeneem en vir ons die mooiste liedere gesing. Sy het begin met Altyd daar (Juanita du Plessis). Van daar af was dit lekker ligte musiek. Sy het ons laat lag en soms vêr laat terug dink.



Sy het ons tot sover gekry om vinnig elkeen 'n nek massering te laat kry. Ai het ons lekker gelag. Dit was 'n uitstekende ysbreker.



Deur die loop van die gebeure het ons die gebedsvriendinne bekend gemaak asook nuwes getrek. Michelle het ook die beoordeling hanteer en ons het 'n paar pryse uitgedeel vir die mees oorspronklike teekoppie stelle asook vir die oulikse aangetrekte dames. Geluk aan al die wenners!



Ek dink nie ek gaan veel sê oor die lekker etery tussen deur nie. Ek gaan laat die foto's julle self laat besluit of ons lekker geeet het. Van die koeke wou mens raam en bêre! Noodloos om te sê dat na Saterdag sal jy net soet dames in ons gemeente kry!!!!



Nou ja, weereens baie dankie aan almal wat 'n aandeel gehad het in hierdie wonderlike dag. Geniet die foto's!

Belinda


Monday, October 27, 2008

Oupa & Ouma

Die tydjie raak nou kort en hulle moet amper terug gaan na die dorre Vrystaat. Geniet die paar foto's van hulle 2 saam met die Kaapse Kleinkinders.


Kyk net Inalise se pragtige baba boetie. Sy naam is Ernst. Hulle bly in Malmesbury en sy is baie lief vir haar boeta. Sy het nog 'n boetie in Windhoek JM wat sy maar min sien. Sy sê sy verlang vreeslik na hom. Maar sy dink dit is nou tyd vir nog 'n sussie!!! Hoor jy pa!


En kyk net, kleinboet sit al klaar vir haar ore aan. Skaars 2 minute terug by die huis en hy het haar aan die hare beet!
Bye!

Naweek

Dit was 'n heerlike naweek. Ons het onsself terdee geniet. Hier is 'n paar foto's van die Inalise en Werner. Hulle wou swem en ons het nie 'n swembad nie. Toe swem hulle maar in ons Vyeboom. Dirk het hulle met die tuinslang nat gespuit terwyl hulle in die boom was.



Sondag was sy saam met ons kerk toe voor ons haar terug gevat het huis toe. Sy het die kinderkerk baie geniet.



Mens sal nooit sê sy en Werner is die dieselfde ouderdom nie!!!
Lekker dag vir julle almal.
Belinda

Friday, October 24, 2008

Welkom

Goeie more aan almal,

Hierdie blog is om al ons familie en vriende op hoogte te hou van wat in ons lewens gebeur. Werner raak yslik groot en ek weet baie van die familie sal dit nie graag wil misloop nie. Met die dat ons so vêr van almal af woon het ek gedink hierdie is 'n uitstekende geleentheid om julle te laat deel in sy groot word.

Werner is nou in Gr 3 en dit gaan goed op skool. Hy is 'n baie aktiewe seun by die skool. Hy is nou nie 'n vreeslike presteerder wat die sport aanbetref nie maar hy neem deel en geniet dit. Wie weet miskien eendag sal ons, ons woorde sluk. Hy doen hokkie, swem, tennis en as daar tyd is skaak. Die atletiek seisoen begin nou en vir die eerste keer kan hy aan die velditems deelneem. Hy gaan alles probeer sodat hy kan kyk waarvan hy hou. Ek hou maar duim vas en hoop daar is iets. Ek het so gehoop op die hardloop deel dat hy soos sy ma sou wees maar nou ja. Daardie bene is te lank en lui om vinniger te hardloop as wat nodig is.




Met ouma en oupa wat tans by ons kuier gaan dit eintlik te lekker. Hy word weer so bederf en geniet dit vreeslik om elke middag saam met ouma te sit en huiswerk doen. Dit laat hom groot meneer voel om vir ouma te wys wat hy al alles kan doen.




Dan is daar ook die opgewondenheid in ons huis weens die Stranddienste wat weer om die draai is. Dit is natuurlik vir hom die groot hoogtepunt. Hy gaan weer heerlik saam met die span die res van die oord bedien met Woord, speletjies en baie liefde. Die span aanvaar hom al as een van die span. Dit is 'n hele maand wat ons op Uilenskraalmond aan die anderkant van Gansbaai saam met 30 tieners baie hard werk en die Liefde van die Here deel met die ander kinders daar.

Maar op 'n ander dag vertel ek julle meer daarvan. Al wat ons op hierdie stadium kan vra is baie gebed vir ons en die span. Daar is so baie relings wat getref moet word.

Soos julle ook almal weet gaan ons as gemeente en Stranddiens span deur die hartseer tyd rondom Ds Enrique Matthee. Vir meeste van ons is hy meer as 'n dominee. Hy is 'n baie goeie vriend. Julle kan sy blog volg oor sy welstand op www.matthee.blogspot.com Leana probeer gereeld updates plaas om sodoende ons almal op hoogte te hou. Moet nie ophou bid vir hulle nie asseblief. Ons hou vas aan God se beloftes en glo aan wonderwerke.

Nou ja. Dit is vir eers genoeg. Ek sal weer vir julle skryf en fotos plaas.

O ja! My ma-hulle gaan vandag vir Inalise haal om die naweek by ons te kuier. Sy het ook al yslik groot geword. Ek sal sorg dat daar Maandag foto's van haar en Werner op die blog is vir julle om te sien.

Ek hoop julle het 'n uitstekende naweek!

Liefde groete!

Belinda