Monday, November 10, 2008

Sondag - Gemeente in rou

Soos almal reeds weet is Ds Enrique oorlede op Donderdagaand 21:52. Dit het gereën tydens sy afsterwe. Vir ons as gemeente en vriende is daar 'n groot leemte. Ons kosbare herder se stem het vir altyd stil geword op ons kansel.



Ds Mienie het Sondag vir ons die erediens gelei op pragtige wyse waarvoor ons altyd baie dankbaar sal wees. Dit was 'n besonderse mooi dag in die Paarl. Dit was warm en die lug was skoon.



Daar was eerbetoning aan Ds Enrique voor die diens in aanvang geneem is. Na die diens was die Nagmaal bedien as eerbetoning aan ons Koning wat Sy lewe vir ons gegee het.



Na die eerbetoning aan Ds Enrique is die kinders uitgeneem na die kinderkerk. Daar het ek op 'n baie mooi en verstaanbare metode met die kinders gewerk. Ons het op hulle vlak verduidelik wat gebeur het. Ons het nie baie gefokus op die gebeure nie, maar meer op die Hemel. Daar was baie kinder vrae na die tyd. Ons het dit probeer antwoord op die beste manier wat ons kon.

Kinderharte was ontbloot en rou emosies was sigbaar. Ek is baie dankbaar vir die leiding en werking van die Heilige Gees wat my bygestaan het tydens hierdie kinderdiensie.

Enrique was vir hierdie kinders alles gewees. Hy het hulle geleer en saam met hulle gespeel. Ons nader die Kersfees seisoen en al die laaste funksies, waaronder ook ons Kerskonsert. Hierdie kinders gee alles in die oefeninge. Hulle doen dit vir hulle oom dominee! "Hy sal dit mos kan sien vanuit die hemel?" was een van die vrae.

Ons het die diensie afgesluit met die welbekende lied: Daar bo in die Hemelse Kaanan. Dit was s gepas en wonderlik.

Moet asseblief nie ophou bid vir ons as gemeente maar ook vir die Kinderbediening nie.

Groete
Belinda



Sustersafsluiting











Wat 'n fees. Na vele oorweging deur die bestuur het ons besluit om voort te gaan met die funksie. Ek is bly ons het. Enrique sou dit so wou gehad het. Dit was heerlik om al die dames uit die gemeente bymekaar te kon hê in hierdie tyd en die dag saam geniet. En het ons dit nie geniet nie ...!



Alles was haarfyn beplan en het pragtig gelyk. Baie dankie Jenny en Blom vir al julle hulp om hierdie dag so 'n reuse sukses van te maak. Dankie dan ook aan elke sustertjie wat haar deel gedoen het. Aan almal wat so mooi gelyk het, dankie dat julle gehou het by die tema!



Die middag het begin waar ek 'n voorlesing uit Annalise Wiid se nuutste boek "Skewe snytjies brood" gedoen het oor "Die kleur van God". Ons het lekker gelag, maar ook baie geleer. Michelle Brink was ons gaskunstenaar vir die dag en het direk hierna oorgeneem en vir ons die mooiste liedere gesing. Sy het begin met Altyd daar (Juanita du Plessis). Van daar af was dit lekker ligte musiek. Sy het ons laat lag en soms vêr laat terug dink.



Sy het ons tot sover gekry om vinnig elkeen 'n nek massering te laat kry. Ai het ons lekker gelag. Dit was 'n uitstekende ysbreker.



Deur die loop van die gebeure het ons die gebedsvriendinne bekend gemaak asook nuwes getrek. Michelle het ook die beoordeling hanteer en ons het 'n paar pryse uitgedeel vir die mees oorspronklike teekoppie stelle asook vir die oulikse aangetrekte dames. Geluk aan al die wenners!



Ek dink nie ek gaan veel sê oor die lekker etery tussen deur nie. Ek gaan laat die foto's julle self laat besluit of ons lekker geeet het. Van die koeke wou mens raam en bêre! Noodloos om te sê dat na Saterdag sal jy net soet dames in ons gemeente kry!!!!



Nou ja, weereens baie dankie aan almal wat 'n aandeel gehad het in hierdie wonderlike dag. Geniet die foto's!

Belinda